Suurlemoene

Al is die lang vakansie verby, is dit nie te sê dat ons alles wat lekker is van winter moet groet nie. Nou is dit tyd vir kuier, lekker eet en rooiwyn drink voor die kaggelvuur. Wat kan nou lekkerder wees as om in die sonnetjie te sit en ‘n lemoen af te skil en dan skyfie vir skyfie te eet, terwyl jy jou verlustig in die wonderlike dae van die Vrystaatse winter. Ons is almal mal oor lemoene maar suurlemoene is nóg ‘n wonder van die skepping en een van die mees veelsydige vrugte.

Kyk maar ‘n bietjie rond as jy deur die woonbuurte van Bloemfontein ry. Oral is daar suurlemoenbome wat propvol vrugte hang en so min daarvan word gebruik. Suurlemoene is gewoonlik geel van kleur met ‘n growwe of gladde, blink skil afhangende van die variéteit. Hier in die Vrystaat groei die Eureka suurlemoen baie goed en dra meer as een keer per jaar wanneer die toestande gunstig is. Suurlemoen is ‘n uitstekende bron van Vitamiene C en daar is baie mense wat glo aan hulle vroegoggend glasie kookwater met suurlemoensap.

Daar word algemeen aanvaar dat suurlemoene uit die Ooste kom. Die Arabiere het dit al in die 14e eeu gekweek en dit is na Europa en Engeland gebring deur reisegers soos Alexander die Grote. Daar word ook beweer dat die eerste suurlemoene in Amerika gekweek is van ‘n sak suurlemoene wat in 1858 van Cicilië na Los Angeles vervoer is. Vandag word suurlemoene oor die hele wêreld gekweek en veral in die warmer dele.

Kom ons gebruik daardie suurlemoene en deel sommer met jou bure as jy baie het!

Wenke:

  • Een medium tot groot suurlemoen bevat ongeveer 15 ml afgerasperde skil en 45-60 ml sap. Plaas die suurlemoen ‘n paar sekondes in die mikrogolf - dit druk makliker uit.
  • Rooster skywe of wiggies saam met vis of hoender
  • Maak suurlemoensap ysblokkies en gebruik in ‘n glas water of sodawater (of in geregte)
  • Vervang die asyn in slaaisous met suurlemoensap.
  • Vir Crème fraîche meng 5 ml suurlemoensap by 250 ml room en laat staan oornag.
  • Gooi suurlemoensap oor gesnyde appels, pere en avokado (selfs patats) om verbruining te voorkom.
  • Suurlemoensap bring die natuurlike geur van die kos na vore. Sprinkel oor lamsvleis, hoender, vis en sampioene terwyl dit gebraai word.
  • Aangepakte koper: Sny ‘n suurlemoen middeldeur en druk dit in sout. Skuur die aanpaksel weg en was die koper in lou water voordat dit gewoonweg opgevryf word.
  • Suurlemoenskil (zest) is ‘n vreugde op sy eie. Voeg by vleisgeregte, hoender of vis, koekbeslag, versiersuiker, gestoofde vrugte en nageregte. Garneer bredies soos Osso Bucco met ‘gremolata’ (‘n mengsel van fyn suurlemoenskil, knoffel en pietersielie).
  • Gebruik gedroogde suurlemoenskyfies vir versiering van koeke of geskenke

Resepte:
Suurlemoenstroop
10 – 12 groot suurlemoene (ek gebruik ongeveer 800 ml suurlemoensap)
2,5 kg suiker
15 ml sitroensuur of wynsteensuur
15 ml Engelse sout
2 liter kookwater

Was die suurlemoene en rasper die skil af van 6 suurlemoene af. Druk die sap uit al die suurlemoene en verwyder die pitte. Gebruik ‘n groot glas of sterk plastiekhouer om die stroop in te meng. Plaas die suiker en die kookwater in die houer en roer tot die suiker gesmelt is. Voeg die res van die bestanddele by en roer goed. Laat oornag staan. Syg deur ‘n doek en gooi in bottels. Bewaar in die yskas. Gebruik as koeldrankstroop met yswater of sodawater. (1 deel stroop met 3-4 dele water) en garneer met suurlemoenskyfies. Nou het jy lemonade soos Ouma dit gemaak het.

Suurlemoen vlapoeding
20 ml botter of margarien
180 ml strooisuiker
30 ml meelblom
afgerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
2 ml sout
2 eiers (geskei)
250 ml melk

Voorafverhit die oond tot 200⁰C. Room die botter en die suiker tot liggeel van kleur. Voeg die meel, suurlemoenskil en –sap, sout en eiergele by en meng liggies. Voeg die melk by en meng tot ‘n gladde mengsel. Klits die eierwit styf en vou dit by die vorige mengsel in. Gooi in ‘n gesmeerde bakskottel. Vul ‘n oondpan halfvol met water en plaas die bakskottel met poeding daarin. Bak vir 60 minute by 180⁰C.

Variasie: Verdeel die beslag tussen individuele gesmeerde ramekin-bakkies. Plaas die bakkies ook in ‘n waterbad en bak vir 40 – 45 minute. Garneer met ‘n skeppie room en versuikerde suurlemoenskil repies.