Marcelle het ‘n passie vir mense en vir kosmaak…. en om vir mense kos te maak. Daarom is dit haar missie om mense te leer kook met pret, plesier en passie!

As jong ma in die jare tagtig het sy verkies tuis te wees vir haar man en drie kinders. Sy was betrokke by insamelings vir kerk en skool en het gou agtergekom dat die algemene vrou en ma daarna smag om meer te weet oor kook en bak. Hulle het inspirasie en motivering gesoek vir daardie daaglikse plig van kosmaak vir die gesin, hulle wou kennis inwin oor produkte, bestanddele, kookmetodes en die moets en moenies van die kombuis. Na drie jaar van gratis demonstrasies by haar kerk en twee jaar as voorsitster van die Bloemfonteinse Fynproewers was Marcelle oortuig van haar roeping.

Sy glo daar is een baie spesiale bestanddeel wat aan almal beskikbaar is, maar dit is elke kok se eie keuse of hulle dit byvoeg of nie. Hierdie wonderbestanddeel is ‘Liefde’. By ‘n ete is dit sommer met die eerste oogopslag duidelik of die geregte met liefde voorberei en voorgesit is.

Na die aanbou van ‘n spesiale demonstrasie-kombuis by die huis open die Demo-Den Kookkuns-skool op 14 Augustus 1990. In die oorhoofse spieël kan 30 – 40 persone presies sien hoe elke gereg voorberei word. Van die begin af word klasse op ‘n Donderdag-oggend en ook Donderdag-aand aangebied. Tuisteskeppers van Bloemfontein en die platteland woon die oggendklasse by terwyl die aandklasse gewild is onder die werkende vroue en mans, studente en selfs skoliere. Agt tot tien geregte word gedemontreer in die drie ure en dit sluit ‘n teepouse en ‘n proe-sessie na afloop van die klas in. Almal gaan met ‘n resepteboek, nuwe kennis en baie kos-inspirasie huis-toe.

Met die heel eerste kursus, Suurdeeg-gebak, het Marcelle haar ander passie nl. broodbak met die mense begin deel. Tans is daar al drie broodbak-kursusse in die reeks en steeds werk Marcelle aan nuwe broodresepte. Haar doel is om verskillende klassieke broodresepte sinvol te vereenvoudig sodat die algemene mens die plesier daarvan kan ervaar. Talle ander kursusse met verskillende temas het deur die jare ontstaan en daar is al meer as dertig, waarvan jaarliks ongeveer vyftien aangebied word. Daar word ook elke jaar nuwe kursusse geskryf om tred te hou met nuwe neigings en behoeftes. Sommige mense het sedert die ontstaan van die skool elke nuwe kursus bygewoon. As hulle nie kan wag vir ‘n nuwe kursus nie herhaal party mense sommer ‘n vorige een net vir die lekker daarvan en gaan altyd met nuwe inspirasie huis-toe.

Korporatiewe funskies word gereeld aangebied op aanvraag. So ‘n funskie sluit dan ‘n demonstrasie, die resepte en ‘n ete in. Kursusse oor spesifieke onderwerpe word spesiaal geskryf op versoek vir sulke geleenthede. Een firma het al op vyftien verskillende geleenthede hulle kliënte so onthaal met groepe van 50-60 persone.

Deur die ongeveer 25 jaar wat die Bloemfontein Fynproewersklub bestaan het Marcelle al ‘n groot verskeidenheid demonstrasies vir hulle gegee. Sy bly ‘n entoesiastiese lid van hierdie klub en getuig dat sy by elke vergadering iets leer en haar eie kennis uitbrei.

Marcelle is ook een van die handjievol mense in Suid-Afrika wat amptelik deur Weber aanbeveel word as instuktrise vir die korrekte gebruik van hulle braaiers. Sy het tans drie verskillende kursusse met ‘n verskeidenheid resepte vir die gebruik van Webers.

‘n Jaarprogram van beplande kursusse word gewoonlik aan die begin van die jaar opgestel en datums word volgens die Vrystaatse skoolkalender bepaal. Klasse word sover moontlik op ‘n Donderdag-oggend en aand aangebied maar uitsonderings is moontlik indien dit vooruit bespreek word. Die meeste klasse word in Afrikaans aangebied, maar onlangs is daar ook twee kursusse, Pasta Panache en Basic Home Cooking, in Engels geskryf en aangebied.

Vir Marcelle is kosmaak ‘n liefde. Sy deel hierdie liefde met entoesiasme en vreugde met almal. Die uitdeel van koskennis en raad is deel van haar daaglikse lewe en sy nooi almal uit om daarvan gebruik te maak.