Idees vir Valentyns-etes

Die afgelope paar weke het ons nog maar gevoel-voel aan die nuwe jaar. Om weer al die wiele aan die rol te kry is nie altyd maklik nie. Die eerste asemskep geleentheid lê om die draai. Dit is interressant hoe die jaar opgedeel is om te verseker dat ons nie verveeld raak met die werklikheid nie. Nou en dan is daar iets lekkers op die kalender om die lewe op te kikker. Valentynsdag herinner darem die ou geliefdes om weer ‘n slag mekaar in die oë te kyk en te sê: Ek is lief vir jou! En natuurlik is dit baie opwindend vir die jong geliefdes om op allerande verskillende maniere die aandag te probeer trek van daardie spesiale persoon. ‘n Klein geskenkie, kaartjies of natuurlik sjampanje en sjokolade is die aangewese ding, maar ‘n heerlik voorbereide ete kan enige iemand se hart week maak.

Ek wil ‘n paar idees gee hoe om ‘n gewone ete te omskep in iets besonders vir Valentysdag. Wanneer ‘n mens tyd afstaan en bietjie moeite doen om vir iemand iets te ete voor te berei, hoe eenvoudig dit ook al is…..is dit vir my ‘n konkrete bewys van liefde. Met Valentynsdag kan mens met die geringste moeite ekstra spesiaal maak. Rooi word natuurlik beskou as die kleur van die liefde en die hartvorm is in hierdie tyd baie gewild.

Ons moet miskien net eers ‘n onderskeid maak tussen prikkelkos ( dit is nou kos wat spesiaal bedien word om die liefde aan te wakker soos bv. die bekende oesters en sjampanje) en kos wat bedien word om jou liefde te bewys.

Hier gee ek graag ‘n paar algemene idees van gereggies om jou liefde te bewys. Die eenvoudigste gereg kan met ‘n klein versiering sommer baie spesiaal lyk. Dink bv. aan ontbyt. Ons maak gereeld roosterbrood en bak eiers. Wat van ‘n sny brood wat met ‘n hartvorm uitgedruk is in die middel. Smelt bietjie botter in ‘n pan, braai die broodjie vinnig aan die een kant, draai om en breek die eier in die hartjieopening om daarin te bak. Bedien met respies spek en kersietamaties wat op ‘n stokkie geryg is en dit lyk en proe sommer anders. Of sny ‘n rooi skil appel in baie dun skyfies… pak die skyfies om ‘n groot hart te vorm op ‘n mooi bord, skep muesli en vars vrugte bo-op en rond af met griekse jogurt, bessies en vars, eetbare blomme.

Onthou blomme soos rose, kappertjies, gesiggies en viooltjies ( om maar net ‘n paar te noem) is eetbaar, en kan as versiering gebruik word. Van rose gepraat --- vir ‘n ligte middagete van slaai kan die bord ook versier word met rooi roosblare wat in die vorm van ‘n hart op die bord gepak word. Bedien dan die slaai bo-op hierdie roosblaarbed.

Vir kleiner versiering kan klein hartvormpies uit geroosterde rooi soetrissie bv. as deel van die slaaibestanddele gebruik word. Dit lyk pragtig om hierdie bloedrooi spatsels in ‘n slaai te sien. Drie van hierdie hartvormpies op die rand van ‘n bord, kan die eenvoudigste gereg verander in iets spesiaal.

Die ander manier om van die hartvorm gebruik te maak, is om nagereg of mousse te stol in ‘n hartvorm of natuurlik koek of nagereg te bak in hartvorms. Eintlik is daar geen einde aan die idees as mens net jou kop so ‘n bietjie laat gaan nie. As iemand miskien dink dat dit alles ‘n bietjie kitch klink, onthou mens doen nie alles gelyk, of versier nie alles dieselfde nie. Tog kan so ‘n ou ietsie om jou gas se hart te vermurwe kan nie skade doen nie.

Enige iemand wat al in Spanje vakansie gehou het sal weet, dit is die land van die liefde, die flamencodans en van Gaspachosop. Valentynsdag is hier in Suid Afrika in die warmste van die somer, wat hierdie yskoue sop die ideale keuse maak. Dit is heerlik as ‘n voorgereg en die garnering doodmaklik.

Resepte:
Gaspacho-sop: (Vir 4 porsies het jy nodig)
1 kg bloedrooi ryp tamaties (afgeskil)
2 snye brood
1 rooi soetrissie (skoongemaak en gekap)
2 huisies knoffel
1 klein groen chilli (gekap – opsioneel)
5 ml suiker
30 ml rooi wynasyn
30 ml goeie olyfolie

Metode: Verwyder die pitte uit die tamaties en kap in stukkies. Week die brood in koue water vir 5 minute, druk dan al die vloeistof uit. Plaas die brood, tamaties, soetrissie, knoffel, chilli, suiker en asyn in ‘n voedselverwerker en meng tot glad. Terwyl die motor aangeskakel is, voeg die olie stadig by om ‘n gladde mengsel te vorm. Geur met sout en varsgemaalde swart peper. Verkoel vir ten minste 2 ure. Berei intussen die garnering voor. Druk hartvormpies uit brood en rooster dit tot bros of braai in bietjie olyfolie. Hou eenkant.

Kap die volgende bestanddele fyn en meng as garnering: Halwe engelse komkommer (pitte verwyder), helfte elk groen en rooi soetrissie, rooi ui en tamatie. Meng al die bestanddele. Bedien die sop in verkoelde sopbakkies wat bo-op ‘n groter bord geplaas is. Plaas twee ysblokkies in elke bakkie sop. Rangskik die hartvormpies roosterbrood en hopies van die groentemengsel op die bord en garneer met vars kruie.

Deur ‘n interressante sous saam met geroosterde vleis, vis, hoender of selfs pasta voor te sit, kan dit ook verander word in ‘n spesiale gereg vir ‘n Valentynsete.

Geroosterde rooi soetrissie sous:
2 rooi soetrissies
30 ml olyfolie
1 rooi ui (gekap)
1-2 huisies knoffel (gekap)
1 blikkie gekapte tamaties
125 ml gekapte pietersielie
125 ml gekapte vars basiliekruid
15 ml tamatiepasta
15 ml suiker

Sny die soetrissies in kwarte en verwyder die pitte en membraan. Plaas dit op ‘n bakplaat onder die oondrooster tot dit letterlik swart gerooster is. Plaas in ‘n plastieksak vir om effe af te koel en verwyder die swart skilletjie en kap die soetrissie in stukkies. Verhit die olie in ‘n kastrol en braai die uie en knoffel tot sag. Voeg die tamaties, pietersielie, basielie, tamatiepasta en suiker by. Voeg ook 375ml water by. Voeg nou die gekapte soetrissie by en kook oor lae hitte vir ongeveer 1 uur. Laat effe afkoel en maak fyn in ‘n voedselverwerker. Geur met sout en swart peper.

Wat ek probeer sê met hierdie idees is dit….dink ‘n bietjie en gebruik die lieflike bestanddele wat nou in seisoen is, rooi soetrissies, ryprooi tamaties, ( hol dit uit, vul dit met heerlike vulsels, maak dit fyn, sny dit vir tekstuur, gebruik dit as garnering), of bv. beet: gebruik dit as kleur en geur by risotto, sny of rasper dit rou by slaai, druk vorms uit… ag so kan ek aanhou. Kyk met nuwe oë en kry inspirasie uit die natuur. Maak dit vir jouself en jou gaste ‘n sensuele ervaring.

Sit ‘n bietjie passie in jou kookkuns en kry bietjie passie in jou lewe.